Franna is op Nylstroom in die Noordelike Provinsie gebore in die jare toe die ‘hippies’ hoogty gevier het. Hy en sy sangmaatbroer, Innes, het albei van baie kleins af ‘n buitengewone liefde vir musiek en spesifiek sing, getoon en het onder leiding van sy ma vir baie jare in die skoolkoor gesing. Hulle was ook maar net gewone seuns en onthou maklik die dag toe hy ‘n vreeslike ontmoeting met Moeder Aarde gehad het, nadat ‘n gholfstok wat op sy rug in ‘n sak was, uitgegly en in die speke van sy fiets teen ‘n hoë spoed beland het. Selfs hul tuinier het ligte skok opgedoen toe hy sien hoe Franna ‘neerkom’.
Franna en Innes het in 1985 hul eerste groot musiekkompetisie gewen het, nl. ATKV Crescendo en daarna in 1987 het hul ook die TV Debuut-kompetisie gewen. Hierna het ‘n verskeidenheid van Langspeelplate gevolg. Franna en Innes het saam derduisende kilometers afgelê na optredes en het later vernuftig geraak in hul verskonings aan die verkeersbeamptes hoekom hulle al weer te vinnig gery het.
Franna het in 1992 sy eerste solo-CD gemaak waarna ‘n hele paar ander gevolg het – ook geestelike CD’s. Deur die jare van sy sangloopbaan, alleen en saam met Innes, het hy kennis gemaak met kosbare Suid-Afrikaners in Staatsteateroptredes, Radio-onderhoude, Groot-verhoog-optredes, kerk- en skoolsale, buitelugoptredes, modeparades, skoonheidskompetisies, talentkompetisies, damestee’s, manne-ontbyte, manne- en vrouekampe, hospitaalbeddens, gevangenes, kabinetministers, verafgeleë dorpies … en so kan ons aangaan … maar tasbaar is steeds die herinnering aan die dag toe hy sy grootste rolmodel, Jesus Christus, ontmoet het. Hierdie kennismaking het sy lewe verander.
Franna het in 1989 aangesluit by die SA Polisiediens en in 1995 op Nylstroom met druiwe begin boer. Mei 2001 verhuis hy en sy gesin na Harrismith in die Suid-Oos Vrystaat waar hy die aanbiddingsleier in hul gemeente was en ook sy hand geslaan het aan kontrakteurswerk in die nabygeleë Qwa Qwa. Aan die begin van 2008 verhuis Franna en sy gesin terug na Nylstroom waar hulle vandag nog bly op ‘n plaas.
Franna, sy vrou Helena, hul 3 seuns en dogtertjie is ‘n hegte gesin met vaste Goddelike beginsels wat graag saam kamp, fliek, kuier en ‘n liefde vir perde deel. Hulle het die vermoë om lekker vir mekaar se blapse te lag, dog ook van mekaar te leer soos die keer toe Franna ‘n ‘shandy’ wou drink en sy 8-jarige seuntjie hom kwaai daaroor aangespreek het. J
Franna se splinternuwe CD, Aspatat, is ‘n tere viering van die wonder van jarelange liefde. Van voet stamp treffers tot selfs ’n tikkie swing, is hierdie album perfek vir die gekultiveerde smaak van Suid Afrika. Die CD kry dit reg om mense weer hoop te gee vir die toekoms terwyl dit met soete lekkerkry terugdink aan die verlede ook... dis is ‘n prestasie van epidermiese proporsies! Die titelsnit, Aspatat, word juis deur 7de Laan oorweeg vir volgende keer as Oom Oubaas en Hilda moet opmaak in die Laan. Geniet hom, snit vir snit is pure luister plesier, en sal verseker gou standard nommers word op radiostasies landswyd.