Nedine:
As kind het ek gedroom van ‘n sterbeligte aand op ‘n verhoog voor ‘n skare van mense. My stem het soos ‘n sagte goue lint deur die skare gevleg om harte aan te raak. God het daardie droom in my hart geplant en dit oor verskeie jare vogtig gehou en sterker gemaak Ek het op 7-jarige ouderdom die eerste keer my hart vir Jesus gegee na ‘n diens deur Dominee Johan Reinecke, NG Kerk Skuilkrans. Die lewe het hartseer en soms vreemde paaie met my geloop en het ek in die proses soveel geleer van die lewe en myself, maar ook van God se genade en Sy plan vir my.
In 2006 het my lewe tot ‘n radikale inkeer gekom tydens die Mev. Verenigde Nasies kompetisie toe die Here vir my verskeie beloftes gegee het en my begin gebruik het in ander mense se lewens op ‘n wyse en skaal wat groter is as enigiets wat ek nog ooit beleef het. Hy het my gewys hoe Hy my gaan gebruik om mense se harte heel te maak en om sy woord uit te dra na die nasies. Hy het my vrygemaak van my bekommernisse oor geld en oorlewing deur te voorsien op wyses waarvan ek daagliks getuig in my vertonings en ook in my daaglikse omgang met mense. Die Here het my belowe dat Hy my sal oprig as ‘n monument of toring in die samelewing tot sy eer en dat mense en veral vrouens met my sal identifiseer, my sal vertrou en dat ek hulle na Jesus sal lei.
God het, so getrou soos Hy is, elke belofte vervul en word my Lof en Aanbiddings CD in April 2008 opgeneem deur Louis Brittz. Die Here het my opgerig as lof en aanbiddingsleier, motiveringspreker, sangeres en voorbidder en is ek vandag ‘n getuie van God se dade en ingrepe in mense se lewens wat ek op ‘n daaglikse basis sien.
Een van die grootste geloofstappe wat ek ooit in my lewe geneem het, was die dag toe ek vir die eerste keer my tiende vir die Here se tempel gegee het. Ek het vir ‘n lang tyd geen tiende betaal nie, omdat ek geglo het dat God sal verstaan dat ek tog nie my kind se skoolgeld, of my laaste duisend rand op my oortrokke fasiliteit aan die kerk kan gee nie. Ek moet tog oorleef! Ek het ook vir lank geglo dat al my liefdadigheidswerk tel as ‘n tiende en dat die Here dit raaksien. Die Here het my vriendin, Liza, gebruik om my te laat besef watter invloed my ongehoorsaamheid op my finansies het. Sy het met my gedeel hoe God in sy woord aan ons verduidelik dat ‘n tiende losstaan van diens van barmhartigheid (liefdadigheidswerk). Ek het by Liza gekla oor my finansies en haar gevra hoekom ek nie voor kom nie en altyd in skuld moet leef. Sy het my uitgedaag om God te vertrou en my tiende aan my kerk oor te plaas. Dit was die laaste duisend rand in my oortrokke fasiliteit. Ek het gebid en omvergifnis gevra vir my ongehoorsaamheid en die Here se seen oor my finansies gebid. Die Here was getrou en het my in een maand uit R35 000 se skuld bevry. Sedertdien getuig ek by my optredes oor die Here se seen oor my finansies en verduidelik die beginsels van tiendes en diens van barmhartigheid aan mense. Die Here wil ons finansies seen, maar verwag gehoorsaamheid. Ek loof Hom vir die wonderwerke wat Hy doen in my lewe.
BIOGRAFIE:
Nedine Blom se derde album, “Met my hele hart” bevat ‘n klassieke duet met Danie Niehaus en is deurspek met keltiese sowel as ligte klassieke invloede.
Sy is nie alleen ’n ouer, eggenoot, musikant en praktiserende prokureur nie, maar is ook in 2006 verkies as Mev. Verenigde Nasies Suid – Afrika. Met ‘n passie vir kinders, het sy een van haar komposisies getiteld “Vir altyd ‘n kinderhart” opgedra ter gedagtenis aan die pyn en swaarkry van kinders. Dit is vir die tweede jaar een van haar projekte om fondse in te samel vir die ALMA skool vir serebraal gestremde kinders in Pretoria.
Nedine Blom is 'n getoë Vrystater... gebore in Bloemfontein en grootgemaak in Koffiefontein en later Bronkhorstspruit. Haar skrywerstalent het reeds in haar kinderjare 'n sterk impak op haar lewe gehad en een van haar liedjies is in 1999 as wenliedjie aangewys van RSG se "Sterre 2000."
As gekwalifiseerde prokureur kies Nedine toe om sangopleiding te ontvang en met 'n sangloopbaan voort te gaan. Haar musiek bevat poëtiese lirieke en verleen 'n besondere kleur aan Afrikaanse musiek in die algemeen. Sy het reeds vroeg in haar sangloopbaan besluit dat haar musiek 'n oorspronklike klank moet hê en blywend van aard moet wees. Met die eerste oogopslag besef 'n mens dan ook dat hierdie stukkie dinamiet nie 'n tradisionele musikant is nie. Haar musiekstyl getuig van eenvoud, teerheid en passie. ‘n Vurige rooikop met ‘n lewenlus wat vir niks skrik nie!!
Haar lof en aanbiddings DVD word in gedurende 2008 vrygestel deur Merchant Music.
Loer gerus na haar webwerf by www.nedineblom.com